
Met Kersfees net om die draai, is die vergrootglas opnuut op gesinne en die verhoudings tussen gesinslede.
Waar Kersfees se boodskap een van vrede en samehorigheid is, is daar baie ouers (en kinders!) wat die tyd van die jaar vrees omdat daar baie druk op families is om saam tyd te spandeer, oor die weg te kom en mekaar te verdra. Dit is egter nie nodig dat Kerstyd ‘n vreesaanjaende ervaring hoef te wees nie, en daar is praktiese riglyne wat wat ouers en kinders kan volg om mekaar te kan waardeer en te koester in hierdie spesiale tyd.
Die eerste beginsel gaan oor AANVAARDING. Besef dat jou familie uniek is – elkeen het sy eie unieke kwaliteite wat bydra tot die interessante dinamiek van jou gesin. Aanvaar dat elkeen anders dink, doen en reageer en doen moeite om hierdie unieke kwaliteite in mekaar raak te sien en te waardeer. Net omdat iemand anders dink as jy, beteken dit nie dat daardie person se seining verkeerd is nie. Dit is egter nogal ‘n moeilik konsep vir jong kinders om te verstaan en ouers moet hier ‘n voorbeeld stel.
Gesonde families het altyd reels wat ‘n fondasie lê vir verantwoordelikheid en emosionele sekuriteit. Wanneer elkeen in die gesin (en dit geld vir ouers ook!) weet wat daar van hulle verwag word, is dit nie nodig om voordurend in konflik te wees nie. Wanneer daar ooreengekom word op familie reels is dit belangrik om elkeen in die gesin te betrek, selfs die kleintjies kan deelneem en ‘n reel bydra. Alhoewel daar tydens vakansies bietjie slapgelê word ten opsigte van roetine, moet basiese reels steeds nagekom word en almal moet teenoor mekaar optree soos wat daar van hulle verwag word.
Maak tyd vir mekaar gedurende die Kerstyd. Ons lewens is so gejaagd gedurende die kwartaal dat ons as gesinne dikwels nie bymekaar uitkom nie. Maak tyd om met mekaar te gesels en om te reflekteer oor die jaar wat verby is. Speel bordspeletjies of speel saam sokker in die tuin. Ons hoef nie altyd geld uit te gee om tyd saam te spandeer nie. Maak tyd om saam te eet aan tafel in die kerstyd. Dit skep ‘n gevoel van samehorigheid en saamwees en moedig goeie kommunikasie aan tussen gesinslede.
Beplan saam aan kersdag. Gee aan elkeen ‘n spesiale taak – dit help ook sodat al die verantwoordelikheid nie net op een persoon se skouers rus nie! Bou aan tradisies op kersdag wat kinders sal onthou en ook eendag sal wil oordra aan hulle gesinne. Dit is soveel belangriker as die geskenke om die boom. Dit kan ‘n ervaring wees waarna elkeen uitsien gedurende die jaar.
Geseënde Kersfees! Mag elkeen ‘n wonderlike tyd ervaar saam met die spesiale mense in hul lewens en mag hul brȗe bou en versterk wat hulle kan dra deur die eise van die jaar!